Francois Terblanche Meyer is op 21 Januarie 1994 in Bloemfontein gebore. Hy was 'n leerling aan die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein en sy digkuns is reeds op skool geprys.

DIE TYDLYN VAN FRANCOIS SE SKRYFWERK

Tempora Animus, 26 September 2013

Francois het sy debuutbundel, Tempora Animus, op 19-jarige ouderdom gepubliseer. Tempora Animus simboliseer die seisoene van sy siel. Hy het gedurende sy matriekjaar (2012) reeds aan dié digbundel begin skryf.

Onder die Dekmantel, 17 Januarie 2015

Met sy tweede digbundel, Onder die Dekmantel, neem Francois die leser op 'n kunstige reis. Onder die Dekmantel is 'n toneelspel in woordkuns, maar die realiteit agter hierdie spel word ontbloot soos die rooi gordyn strofe vir strofe oplig en maskers val.

Digtershart, 25 Junie 2016

"In Digtershart kon ek uiteindelik elke donker stukkie wat nog in my siel agtergebly het en hoofstukke van my lewe finaal afsluit, neerpen," só beskryf Francois die kreatiewe helingsproses van sy derde digbundel, Digtershart. Die eerlikheid van hom as méns word in hierdie digbundel geopenbaar, waar hy terselfdertyd sy veelsydigheid as digter bewys.

Die wêreld deur haar oë, 21 Januarie 2017

Die wêreld deur haar oë is Francois se eerste prosastuk. Dié boek vertel 'n storie van 'n vrou en haar stryd met lupus, 'n outoïmmuunsiekte. Francois raak aan die impak van lupus op liggaamlike, geestelike en emosionele aspekte in hierdie boek wat hy as 'n gids beskou. "Hierdie boek is ook my ma (Anne-Marie Meyer) se getuienis en ek poog werklik om bewusmaking en hoop met hierdie publikasie weer te gee," vertel hy. Met die verkope van hierdie boek, skenk Francois 10% van alle winste aan die niewinsgewende organisasie, Lupus SA

'n Groot aanvraag het die Engelse weergawe, The world through her eyes, die lig laat sien. Beide publikasies is in 2018 as opgedateerde weergawes vrygestel. Die wêreld deur haar oë is op 28 Mei 2018 as 'n e-boek op Kobo Books vrygestel. Die e-boek het binne 24 uur 'n topverkoper geword in vier kategorieë, onder andere: niefiksie, medies, gesondheid & welstand en siektes.

Pendulum, 9 September 2017

Pendulum is Francois se vierde digbundel. Beeldspraak oor Tyd as hooftema kom deurgaans in Pendulum voor. "Sal jy voordat Tyd se wysers uit sekondes loop en die pendulum van die lewe sy laaste klokslag oor jou asem laat beier, trots op jou boek se inhoud wees?" — aangehaal vanuit Pendulum se voorwoord. Hierdie digbundel bestaan uit 70 gedigte, waarvan elke gedig 'n illustrasie deur Magda Labuschagne bevat.

ANDER PUBLIKASIES

Onder die Dekmantel: Die Spesiale Weergawe, 30 Oktober 2015

Hierdie digbundel is 'n omnibus van Francois se eerste twee digbundels; Tempora Animus en Onder die Dekmantel. 

Digtershart Drie-Kuns, 15 Junie 2017

Hierdie digbundel is 'n omnibus van Francois se eerste drie digbundels; Tempora Animus, Onder die Dekmantel en Digtershart. Dit is die enigste versamelstuk van hierdie drie digbundels wat nog in druk is.

TOEKENNINGS

INK Skryf in Afrikaans

Francois ontvang op 4 November 2017 twee toekennings by INK Skryf in Afrikaans se prestige gala-aand. Sy rubriek, Marlborowalms en skietgebede word as Rubriek van die jaar gekroon. Hy het ook ‘n tweede plek in die kategorie Digter van die jaar verower. 

Roostoekennings 2018

Op 12 April 2018 ontvang Francois ‘n Radio Rosestad Roostoekenning vir sy bydrae tot die Afrikanerkultuur.

ANDER PROJEKTE 

Pendoring

In Februarie 2018 het Francois die digbundel Pendoring Digters Volume 1 saamgestel. Hierdie digbundel het sy oorsprong vanuit die Pendoring Digkompetisie (2017–2018) gekry en 22 digters verskyn daarin. In Oktober 2018 het Pendoring Digters Volume 2 die lig gesien, waarin 18 digters se werke verskyn.

Beroep

Francois is 'n selfstandige entrepreneur van beroep en grafiese ontwerp is naas kreatiewe skryfkuns ook een van sy grootste passies. Hy is die eienaar van die besigheid, Infinitum Projects.

Afrikaans: sy trots

Francois is 'n trotse ambassadeur vir Afrikaans.com. Hy beskou sy reis met Afrikaans as ’n skilder wat voor ’n leë skilderdoek staan om elke dag met ’n ander kleur daarop te verf. In Februarie 2018 het Francois se gedig, Liefde is soos die winter, die kortlys vir LitNet se Liefde is... digkompetisie gehaal. Van sy werke kan op LitNet sowel as INK Skryf in Afrikaans gelees word.

TEN SLOTTE

Alhoewel Afrikaanse skryfkuns Francois se grootste passie is, is hy ook gaande oor reis (veral plekke in Europa). Hy tree ook op versoek op as motiveringspreker en skroom nie een oomblik om sy verhaal met ander te deel nie.

Hy woon tans in Bloemfontein en sy grootste droom is om ander deur middel van kreatiwiteit in hul drome te laat glo. Hy staan ook sterk vir kreatiewe vryheid. “As jou drome jou nie bang maak nie, droom jy nie groot genoeg nie!”